Wie is daar wat jou vandag kwaai irriteer? Noem net die eerste tien op! Hoekom kan mense ons so irriteer? Hoe kry hulle dit reg om met spykerskoene op ons senuwee eindpunte te dans? Om spreekwoordelik met hulle naels oor ‘n swartbord te trek?
Soms verskil ons persoonlikhede, ander kere is hierdie irriterende siele ‘n spieël waar ons iets van ons self raaksien waarvan ons nie hou nie, of dalk omdat hulle ons konfronteer om anders te dink. Die beste manier om mense wat jou irriteer te verstaan, is om hulle beter te leer ken. Irritasie is in sy kern maar ‘n verhoudingsprobleem. Ek het een jaar ‘n irriterende tiener seun in my kategeseklas gehad, hy het al my slegte herinneringe aan irriterende tieners wat saam met my op skool was, wakker gemaak. Die enigste verskil was, ek was al groot en hy nog ‘n klein arrogante kêrel. Deur die jaar leer ek sy ouers ken, begin ek agterkom, dat sy ouers nie in ons kerk is nie, in geen kerk nie. Dat hy alleen begin kerk toe gaan het, dat hy self begin Sondagskool toe gaan het. Dat hy winter en somer kerk toe stap en geen ondersteuning van sy ouers kry nie. Sy huis was vol drankmisbruik en alkoholisme, tog kom hy kerk toe, tog wil hy die Here leer ken, tog wil hy groei en al waaraan ek kan dink is hoe hy my irriteer! Ek het begin besef hy is eintlik die engel in die huis, teen die agtergrond van sy huis het hy uit gestyg. My houding het teenoor hom begin verander, hy het nog dieselfde dinge gedoen, maar dit het my minder geïrriteer. Ek het sy hart leer ken, en tot vandag toe het ons nog kontak.
Romeine 15
1 Op ons wat sterk is in die geloof, rus die verpligting om die swakhede te verdra van dié wat nie sterk is nie. Ons moenie aan onsself dink nie: 2 elkeen van ons moet aan ons naaste dink en aan wat vir hom goed is en wat hom in die geloof kan opbou. 3 Christus het immers ook nie aan Homself gedink nie, inteendeel. Dit was met Hom soos daar geskrywe staan: "Die beledigings waarmee mense U beledig, het op My neergekom."
Seën
Christo
Die video wat ons gekyk het oor eksegese kan jy kry by:
http://www.scripturedirect.com/
Die program wat jy kan gebruik om die Bybel te ontleed kan jy kry by:
http://www.e-sword.net/index.html
Rick Warren noem hierdie ouens wat ons so irriteer "skuurpapier christene". Hulle is juis in jou lewe gegee om so klein bietjie aan jou te kom skuur sodat jy meer kan wees wie die Here wil hê jy moet wees. Elke gemeente het 'n klompie sulke skuurpapier lidmate. Kyk 'n bietjie rond, sê Warren. Hulle is maar daar. En as jy hulle nie kan sien nie, is dit dalk jyself!!
ReplyDelete