Wednesday, 28 January 2009

Vrouwen Aan De Macht




In my pastorale werk met Suid Afrikaners in Brittanje het ʼn tema my getref wat te gereeld herhaal om te ignoreer. Aanvanklik het ek gedink ek verbeel my, maar met die tyd het te veel paartjies met huweliksprobleme voor my gesit waar die selfde tema na vore gekom het.

Stef Bos se lied oor hierdie fenomeen het my laat dink dit is ʼn verskynsel wat meer algemeen is as wat ons dink. In sy lied “Vroue aan de macht sing hy”:

De wissel van de wacht
Vrouwen aan de macht
De wissel van de wacht
Vrouwen aan de macht

De regering was gevallen
Voor de wet van vrouw'lijk schoon
De generaal bracht alleen nog maar
De kinderen naar school

My hele wese glo in gelyke regte vir manne en vroue. Vir lank het ek in Suid Afrika hard gespook om vroue hulle regmatige plek in die huwelik te gee. In Brittanje(ek vermoed al hoe meer in Suid Afrika ook) gebeur iets interessant, vrou wat onversorg, oor werk, sonder sekuriteit, uitgebrand en weerloos voel. Manne wie se ego gekrenk is, wat voel hulle kan nie goed genoeg vir hulle gesin sorg nie, wat versigtig is om leiding en standpunt in te neem.

Ons word groot met ʼn wêreldbeeld van ʼn pa wat die beter werk het, die meer geld verdien, die besluite neem. Die hele familie trek agter die beste werksgeleenthede vir pa aan. Ma se werk is opsioneel, sy kry nie die groot salaris nie, spandeer nie so baie tyd by die werk soos pa nie.
In Brittanje het hierdie prentjie egter verander. Baie Suid Afrikaanse paartjies kom hierheen op die vrou se werkspermit, sy verdien die groot salaris, sy werk die lang ure. Die man is in ʼn groot mate afhanklik van die vrou, hy kry werk waar sy werk kry. Die besluit om hierheen te kom was ʼn gesamentlike besluit, die praktyk van hierwees het egter ander implikasies.

In die Sosiale sielkunde word gepraat van ʼn persoon se sosiale mag. In Suid Afrika is die meeste sosiale mag by die man, vir baie gesinne in Brittanje is dit by die vrou. Die beginsel hiervan is nie ʼn probleem nie, maar ongelukkig lyk die praktyk nie so rooskleurig nie. Die simptome(soos reeds genoem) van hierdie probleem steek ongelukkig die onderliggende rede weg.

Die oplossing vir die probleem lê daarin om eerstens te erken dat dit bestaan. Dat baie SA mans se ego juis versterk word deur die feit dat húlle die versorger en onderhouer is van die familie, verder het elke vrou ʼn basies behoefte aan sekuriteit, veiligheid en versorging – ongeag hulle salaris, beroep of persoonlikheid. Verder moet die rolle in die verhouding duidelik uitgeklaar word, wie neem finale verantwoordelikheid vir die finansies, besluite oor motors, huise ens. Hierdie sake is gesamentlike besluite, maar iemand moet verantwoordelikheid daarvoor neem.
ʼn Huwelik is om saam op reis te wees, as een voel hy of sy raak agter verloor die huwelik. Efesiërs 5:21 sê “Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig.” As ons sensitief is vir mekaar se behoeftes maak dit nie meer saak wie die werkspermit het, of die groot salaris nie. Ons begin die Here se seën en versorging vir ons gesin raaksien en leef ons saam dankbaar teenoor Hom.

Ek sal graag julle reaksies wil hoor, ek vermoed dit kan jou dalk net ontstel? Skryf gerus!

Monday, 19 January 2009

Juis hierdie dinge moet ons doen en die ander nie nalaat nie.


Matteus 23
23 "Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle gee tiendes van kruisement, anys en koljander, maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg, laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. Juis hierdie dinge moet 'n mens doen en die ander nie nalaat nie. 24 Blinde leiers! Julle skep die muggie uit julle beker uit, maar julle sluk die kameel in.
(Foto van 'n dogterjie wat ek in Indië geneem het.)
Jesus het die gawe gehad om op wonderlike manier verhoudings te bou!
Hierdie is nie een van daardie geleenthede nie. Jesus is besig met sewe veroordelings van die fariseërs. Hy veroordeel hulle veral vir hulle inkonsekwente godsdiens. Hulle verabsoluteer sekere fasette van hulle geloof, en verwaarloos ander.
Hulle was baie behep met persoonlike heiligheid, die gee van tiendes tot in die ekstreme vorme(Kruisement, anys en koljander). Hulle het die persoonlike religieuse wette tot in die fynste besonderhede na gekom. Opsig self was dit nie ‘n probleem vir Jesus nie. Dit is vir Hom belangrik hoe ons verhouding met God lyk. Dit is vir Hom belangrik hoe ons leef, wat ons met ons geld doen, wat ons lees, dink en deelneem aan. Jesus sê vir hulle: daar is meer aan ‘n lewe van geloof as net ons persoonlike heiligheid. Hy sê dit baie sterk, Dit wat swaarder weeg laat julle na. Geregtigheid, Barmhartigheid en Betroubaarheid – God plaas ons in hierdie wêreld om heling te bring, om troos te bring, om geregtigheid te laat geskied. Jesus sê vir hulle: As julle na die tempel toe stap, draai julle, julle gesigte weg van arme langs die pad, julle laat toe dat mense onderdruk word en julle is nie betroubare getuies van my liefde nie.
Die wêreld stel nie belang in ons wonderlike geestelike ervarings nie, hoe ons die Here ervaar in ons lewes nie. Ons ervaring en boodskappe maak nie hulle honger stil nie, troos nie as hulle ly nie, bring nie hoop as hulle hopeloos is nie. Kom ons leef heilig skoon en regverdig, maar laat ons nie dit wat swaarder weeg verwaarloos nie – Geregtigheid, Barmhartigheid en Betroubaarheid.
Gebed
Vader dankie dat U ons vrymaak van ‘n klomp wette wat ons so besighou dat ons energie en tyd het vir niks anders nie. Help ons om verby ons eie lewens te kyk en ons taak in die wêreld rak te sien. Maak ons oe oop vir die wat ly. Gee ons ‘n hart vir die wêreld.

Amen.

Monday, 12 January 2009

Goeie Christenmense skree vir die Vrystaat?

(Hierdie artikel het oorspronklik verkyn op http://www.ekerk.co.za/)


Elkeen van ons het ‘n storie wat ons lewe oorheers. Die storie vertel nie alleen iets oor ons verlede nie maar ook baie oor ons toekoms. Ons kan die stories ook beskryf as die brille waarmee ons na die lewe kyk. Die bril wat ons ophet bepaal dit wat ons sien, beleef en hoe ons dit interpreteer. Ons stories word die bril waardeur ons na die wêreld kyk. Hierdie stories veroorsaak dat niemand objektief na die realiteit kan kyk nie. Ek het grootgeword met die storie dat enige goeie Christenmens vir die Vrystaat skree. Noudat ek groot is, verstaan ek hoekom dit so moet wees. Hierdie storie van ‘n goeie Christenmens, bepaal my emosie as ek na ‘n rugbywedstryd kyk. Jy het moontlik met ‘n ander storie grootgeword - moontlik dat goeie Christenmense vir die Noord Transvaal of WP skree (behoede my daardie dag)!
Ongelukkig beïnvloed die stories waarmee ons lewe nie net ons sportvoorkeure nie, maar ook baie ernstiger fasette van ons lewe. Hoe ons oor onsself dink (Wat is my potensiaal? Is ek te vet?), hoe ek oor ander dink (Gaan my man my ook verkul?, Swartmense is mos baie anders as ons?), ens. Deur die geskiedenis is daar baie stories vertel wat lewe en dood stories geword het. Die Natzi’s vertel stories oor die Jode en duisende sterf. In Ruanda vertel die Hutus stories oor die Toetsies en duisende sterf. In Suid Afrika vertel die blanke mense stories oor die swartemense; swartmense vertel stories oor die blanke mense; Zulus vertel stories oor die Xhosas en andersom Die Xhosas vertel stories oor die kleurlingmense en andersom. Deur die stories vorm ons beelde van mekaar - wat in die meeste gevalle ver verwyderd is van die realiteit, maar hierdie stories word ons realiteit. Ons leef, neem besluite en reageer volgens hierdie (subjektiewe) realiteite.
Om te lewe volgens stories is ook niks nuut nie. Brian Mclaren vertel in sy boek Everything Must Change: Jesus, Global Crises, and a Revolution of Hope
van ses stories wat dominant was in Jesus se tyd.
1. Dominasie Storie ( Romeine glo hulle moet domineer om suksesvol te wees en vrede te handhaaf.)
2. Revolusie storie.(Die Jode aanvaar nie die dominasie nie en kom in opstand)
3. Reiniging storie.(Die fariseërs meen dat die volk ly weens die sondaars in hulle midde)
4. Viktimisasie storie.(Sommige mense beskou hulself as slagoffers wat geen sê het oor hulle eie toekoms nie)
5. Isolasie storie (Groepe soos die Esensers onttrek hulle van die “sondige” wêreld en leef net tussen die wat soos hulle dink)
6. Akkumulasie storie (Sommige Jode voel dat, om soveel as moontlik besittings op te gaar, al is waaroor hulle beheer het.)
In die volgende artikels gaan ons na hierdie stories kyk en vra hoe hierdie stories ook ons lewens beïnvloed. Ons gaan ook soek na die Groot storie, God se storie vir Sy volk, kerk en kinders.

Seën
Christo