
In my pastorale werk met Suid Afrikaners in Brittanje het ʼn tema my getref wat te gereeld herhaal om te ignoreer. Aanvanklik het ek gedink ek verbeel my, maar met die tyd het te veel paartjies met huweliksprobleme voor my gesit waar die selfde tema na vore gekom het.
Stef Bos se lied oor hierdie fenomeen het my laat dink dit is ʼn verskynsel wat meer algemeen is as wat ons dink. In sy lied “Vroue aan de macht sing hy”:
De wissel van de wacht
Vrouwen aan de macht
De wissel van de wacht
Vrouwen aan de macht
De regering was gevallen
Voor de wet van vrouw'lijk schoon
De generaal bracht alleen nog maar
De kinderen naar school
My hele wese glo in gelyke regte vir manne en vroue. Vir lank het ek in Suid Afrika hard gespook om vroue hulle regmatige plek in die huwelik te gee. In Brittanje(ek vermoed al hoe meer in Suid Afrika ook) gebeur iets interessant, vrou wat onversorg, oor werk, sonder sekuriteit, uitgebrand en weerloos voel. Manne wie se ego gekrenk is, wat voel hulle kan nie goed genoeg vir hulle gesin sorg nie, wat versigtig is om leiding en standpunt in te neem.
Ons word groot met ʼn wêreldbeeld van ʼn pa wat die beter werk het, die meer geld verdien, die besluite neem. Die hele familie trek agter die beste werksgeleenthede vir pa aan. Ma se werk is opsioneel, sy kry nie die groot salaris nie, spandeer nie so baie tyd by die werk soos pa nie.
In Brittanje het hierdie prentjie egter verander. Baie Suid Afrikaanse paartjies kom hierheen op die vrou se werkspermit, sy verdien die groot salaris, sy werk die lang ure. Die man is in ʼn groot mate afhanklik van die vrou, hy kry werk waar sy werk kry. Die besluit om hierheen te kom was ʼn gesamentlike besluit, die praktyk van hierwees het egter ander implikasies.
In die Sosiale sielkunde word gepraat van ʼn persoon se sosiale mag. In Suid Afrika is die meeste sosiale mag by die man, vir baie gesinne in Brittanje is dit by die vrou. Die beginsel hiervan is nie ʼn probleem nie, maar ongelukkig lyk die praktyk nie so rooskleurig nie. Die simptome(soos reeds genoem) van hierdie probleem steek ongelukkig die onderliggende rede weg.
Die oplossing vir die probleem lê daarin om eerstens te erken dat dit bestaan. Dat baie SA mans se ego juis versterk word deur die feit dat húlle die versorger en onderhouer is van die familie, verder het elke vrou ʼn basies behoefte aan sekuriteit, veiligheid en versorging – ongeag hulle salaris, beroep of persoonlikheid. Verder moet die rolle in die verhouding duidelik uitgeklaar word, wie neem finale verantwoordelikheid vir die finansies, besluite oor motors, huise ens. Hierdie sake is gesamentlike besluite, maar iemand moet verantwoordelikheid daarvoor neem.
ʼn Huwelik is om saam op reis te wees, as een voel hy of sy raak agter verloor die huwelik. Efesiërs 5:21 sê “Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig.” As ons sensitief is vir mekaar se behoeftes maak dit nie meer saak wie die werkspermit het, of die groot salaris nie. Ons begin die Here se seën en versorging vir ons gesin raaksien en leef ons saam dankbaar teenoor Hom.
Ek sal graag julle reaksies wil hoor, ek vermoed dit kan jou dalk net ontstel? Skryf gerus!
