Elkeen van ons het ‘n storie wat ons lewe oorheers. Die storie vertel nie alleen iets oor ons verlede nie maar ook baie oor ons toekoms. Ons kan die stories ook beskryf as die brille waarmee ons na die lewe kyk. Die bril wat ons ophet bepaal dit wat ons sien, beleef en hoe ons dit interpreteer. Ons stories word die bril waardeur ons na die wêreld kyk. Hierdie stories veroorsaak dat niemand objektief na die realiteit kan kyk nie. Ek het grootgeword met die storie dat enige goeie Christenmens vir die Vrystaat skree. Noudat ek groot is, verstaan ek hoekom dit so moet wees. Hierdie storie van ‘n goeie Christenmens, bepaal my emosie as ek na ‘n rugbywedstryd kyk. Jy het moontlik met ‘n ander storie grootgeword - moontlik dat goeie Christenmense vir die Noord Transvaal of WP skree (behoede my daardie dag)!
Ongelukkig beïnvloed die stories waarmee ons lewe nie net ons sportvoorkeure nie, maar ook baie ernstiger fasette van ons lewe. Hoe ons oor onsself dink (Wat is my potensiaal? Is ek te vet?), hoe ek oor ander dink (Gaan my man my ook verkul?, Swartmense is mos baie anders as ons?), ens. Deur die geskiedenis is daar baie stories vertel wat lewe en dood stories geword het. Die Natzi’s vertel stories oor die Jode en duisende sterf. In Ruanda vertel die Hutus stories oor die Toetsies en duisende sterf. In Suid Afrika vertel die blanke mense stories oor die swartemense; swartmense vertel stories oor die blanke mense; Zulus vertel stories oor die Xhosas en andersom Die Xhosas vertel stories oor die kleurlingmense en andersom. Deur die stories vorm ons beelde van mekaar - wat in die meeste gevalle ver verwyderd is van die realiteit, maar hierdie stories word ons realiteit. Ons leef, neem besluite en reageer volgens hierdie (subjektiewe) realiteite.
Om te lewe volgens stories is ook niks nuut nie. Brian Mclaren vertel in sy boek Everything Must Change: Jesus, Global Crises, and a Revolution of Hope
van ses stories wat dominant was in Jesus se tyd.
1. Dominasie Storie ( Romeine glo hulle moet domineer om suksesvol te wees en vrede te handhaaf.)
2. Revolusie storie.(Die Jode aanvaar nie die dominasie nie en kom in opstand)
3. Reiniging storie.(Die fariseërs meen dat die volk ly weens die sondaars in hulle midde)
4. Viktimisasie storie.(Sommige mense beskou hulself as slagoffers wat geen sê het oor hulle eie toekoms nie)
5. Isolasie storie (Groepe soos die Esensers onttrek hulle van die “sondige” wêreld en leef net tussen die wat soos hulle dink)
6. Akkumulasie storie (Sommige Jode voel dat, om soveel as moontlik besittings op te gaar, al is waaroor hulle beheer het.)
In die volgende artikels gaan ons na hierdie stories kyk en vra hoe hierdie stories ook ons lewens beïnvloed. Ons gaan ook soek na die Groot storie, God se storie vir Sy volk, kerk en kinders.
Seën
Christo
No comments:
Post a Comment