Monday, 19 January 2009

Juis hierdie dinge moet ons doen en die ander nie nalaat nie.


Matteus 23
23 "Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle gee tiendes van kruisement, anys en koljander, maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg, laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. Juis hierdie dinge moet 'n mens doen en die ander nie nalaat nie. 24 Blinde leiers! Julle skep die muggie uit julle beker uit, maar julle sluk die kameel in.
(Foto van 'n dogterjie wat ek in Indië geneem het.)
Jesus het die gawe gehad om op wonderlike manier verhoudings te bou!
Hierdie is nie een van daardie geleenthede nie. Jesus is besig met sewe veroordelings van die fariseërs. Hy veroordeel hulle veral vir hulle inkonsekwente godsdiens. Hulle verabsoluteer sekere fasette van hulle geloof, en verwaarloos ander.
Hulle was baie behep met persoonlike heiligheid, die gee van tiendes tot in die ekstreme vorme(Kruisement, anys en koljander). Hulle het die persoonlike religieuse wette tot in die fynste besonderhede na gekom. Opsig self was dit nie ‘n probleem vir Jesus nie. Dit is vir Hom belangrik hoe ons verhouding met God lyk. Dit is vir Hom belangrik hoe ons leef, wat ons met ons geld doen, wat ons lees, dink en deelneem aan. Jesus sê vir hulle: daar is meer aan ‘n lewe van geloof as net ons persoonlike heiligheid. Hy sê dit baie sterk, Dit wat swaarder weeg laat julle na. Geregtigheid, Barmhartigheid en Betroubaarheid – God plaas ons in hierdie wêreld om heling te bring, om troos te bring, om geregtigheid te laat geskied. Jesus sê vir hulle: As julle na die tempel toe stap, draai julle, julle gesigte weg van arme langs die pad, julle laat toe dat mense onderdruk word en julle is nie betroubare getuies van my liefde nie.
Die wêreld stel nie belang in ons wonderlike geestelike ervarings nie, hoe ons die Here ervaar in ons lewes nie. Ons ervaring en boodskappe maak nie hulle honger stil nie, troos nie as hulle ly nie, bring nie hoop as hulle hopeloos is nie. Kom ons leef heilig skoon en regverdig, maar laat ons nie dit wat swaarder weeg verwaarloos nie – Geregtigheid, Barmhartigheid en Betroubaarheid.
Gebed
Vader dankie dat U ons vrymaak van ‘n klomp wette wat ons so besighou dat ons energie en tyd het vir niks anders nie. Help ons om verby ons eie lewens te kyk en ons taak in die wêreld rak te sien. Maak ons oe oop vir die wat ly. Gee ons ‘n hart vir die wêreld.

Amen.

No comments:

Post a Comment