Thursday, 23 April 2009

Die wêreld is honger vir eerlikheid


Filippense 2 "4 Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander. 5 Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: 6 Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, 7 maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, 8 het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. 9 Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, 10 sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig,"

Die wêreld is honger vir eerlikheid

Die geweldige reaksie op die video van Susan Boyle op “Britain’s got talent” bevestig vir my weer die gedagte dat daar ‘n generasie mense is wat moeg is vir dit wat blink en aangeplak is. Daar is ‘n behoefte aan eerlike, outentieke mense, wat eerlik is oor hulle tekortkominge en hulself en ander aanvaar. Ons as kerk kan ook hieruit leer. Vir lank was die maatstaf waaraan die kerk gemeet is, hoe “entertaining”, professioneel en glad geolie die dienste en bedieninge was. Dit beïndruk nie meer nie - mense soek eerlikheid, selfs eerlikheid oor ons twyfel en worstelinge. Dit is ook wat die Here Jesus gedoen het. Hy kom nie as deel van ‘n goed georkestreerde plan wat foutloos verloop nie. Nee, Hy word gebore in ‘n stal wat sleg ruik, Hy eet saam met sondaars, was voete, is benoud, ly, word op gespoeg en geslaan.
Groete

Susan se video
http://www.youtube.com/watch?v=Il5TBgD9kHI

Thursday, 16 April 2009

Waar is God die meeste?

· Saterdagaand in die Pub saam met vriende?
· Sondagoggend in die Kerk?
1 Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here,(Psalm 24)
Oor die jare heen het daar ‘n onderskeid in ons denke begin kom oor waar God is en waar Hy nie is nie, hoe ons optree waar God is en waar hy nie is nie. Ons trek anders aan as ons kerk toe gaan uit “respek” vir God(?), maar ons kan maar bid in die aand met net ‘n PT broek aan. Die skeiding het verder gegaan in ons denke oor rolle wat mense in die gemeente speel. Daar is die predikant en die kerkraad en dan is daar die gewone gelowiges. As Jesus sy Koninkryk wil vestig dan kies Hy 12 “gewone mense” en vertrou Sy boodskap aan hulle toe. By God is daar nie belangriker mense as ander nie. Daar is nie geestelike en vleeslike dele van ons bestaan nie. God is net soveel deel van ons seksualiteit en werk as van ons stiltetyd. Begin God raaksien in elke situasie, soek sy wil in elke situasie.
Sondag is daar geen alternatiewe diens by ons nie, ek preek wel by Londonwyk die oggend en aand.
Ek het weer die musiek van Don Franciso ontdek - ek sit van sy video’s op my blog waarna julle kan gaan luister.

Liefde en groete.

Die fees van die ongesuurde brode.

1 Korintiërs 5:6-8

6 Julle selfverheffing is nie mooi nie. Weet julle nie dat 'n bietjie suurdeeg die hele deeg deurtrek nie? 7 Verwyder dan die ou suurdeeg, sodat julle nuwe, ongesuurde deeg kan wees, en dit is julle ook werklik. Ons paaslam is immers geslag: dit is Christus. 8 Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van onsedelikheid en ander sonde nie, maar met die ongesuurde brood van reinheid en waarheid.

God is besig met Sy groot plan met Israel. Hulle staan gereed om uit Egipte te vlug. Tydens die Pasga word 'n lam geslag en die bloed aan die deurkosyne gesmeer. God straf die Egiptenare vir hulle ongehoorsaamheid en spaar Sy volk. Die volgende dag begin hulle trek, hulle is vry. Hierdie is die eerste dag van 'n nuwe fase in die geskiedenis van die volk. A.g.v. die haas waarmee hulle weg is uit Egipte was daar nie tyd vir suurdeeg in die brode nie, dus eet hulle tydens die Pasga en die week daarna steeds die ongesuurde brode.

God stel 'n fees in waartydens hierdie geleentheid herdenk word. Die fees begin die dag na die Pasga en duur vir sewe dae. Die fees se naam verwys terug na hierdie ongesuurde brode. Die afwesigheid van suurdeeg kry later 'n groter simboliese waarde wanneer suurdeeg 'n sterk negatiewe waarde kry in die lewe van die volk. Hulle suurdeeg was nie te kry in 'n netjiese pakkie by Tesco nie, maar deel van gister se ou deeg is gebruik in vandag se brood. Die ongesuurde brode was 'n teken van 'n nuwe skoon begin. Hierdie was nie net 'n tyd vir geestelike skoonmaak nie, maar ook fisiese skoonmaak. Al die ou gis is uit die kombuis gegooi en die huis is skoongemaak. Die huise het klein venstertjies en deure gehad wat nie baie lig en lug ingelaat het nie. As die oortollige goed uitgegooi is, was daar weer spasie in die huis en het die lig en lug makliker ingekom. 'n Nuwe oop begin met baie lig in hulle huise en lewens. Sommige skrywers koppel die gebruik van “springclean” aan hierdie gebeure.

Dit is treffend dat as die Here Jesus 'n dag kies waarop hy opstaan, dan is dit juis die begin van die fees van die ongesuurde brode. Die Jode is besig om terug te dink aan hulle eerste dae van vryheid uit slawerny – Jesus bring vryheid van die sonde en dood. Jesus kom maak ons vry van die suurdeeg wat die res van ons lewe versuur.

Tydens hierdie tyd kan ons as gesin vir 'n week ongesuurde brode (wat by die meeste supermarkte te kry is) eet. As ons dit eet kan ons gesels oor die betekenis daarvan vir ons. Dit is ook 'n ideale geleentheid om na ons lewens en omgewing te kyk. Ons huise en lessenaars bietjie skoonmaak en uitgooi. Nie alleen ons fisiese omgewing nie, maar ook ons harte. Wat is daar van gister wat ons nog saam met ons dra? Hardnekkige sondes wat gewoontes geword het, skuldgevoelens, woede en haat. Al hierdie goed is die suurdeeg van die verlede wat ons lewe nou omkrap. Leef nuut, leef vry!

Saturday, 4 April 2009



Kultusse – Wolf in skaapsklere!

Titus 3
7 So is ons dan deur sy genade vrygespreek en het ons erfgename geword van die ewige lewe wat ons verwag. 8 Dit is 'n betroubare woord. Daarom wil ek hê dat jy van hierdie dinge met groot nadruk moet getuig, sodat dié wat tot geloof in God gekom het, hulle op goeie werk kan toelê, werk wat goed en nuttig is vir die mense. 9 Maar jy moet jou nie inlaat met dwase strydvrae en geslagsregisters en met getwis en stryery oor die wet van Moses nie, want dit is nutteloos en sinloos. 10 Met iemand wat na twee vermanings nog skeuring veroorsaak, moet jy niks te doen hê nie,11 omdat jy weet dat so 'n man op die verkeerde pad is. Deur sy sonde bring hy die oordeel oor homself.

Ek het die afgelope tyd baie vrae gekry oor geloofsgroepe wat mense onrustig maak. Alhoewel geloof die fondament van ons lewe is, is dit ook so dat sekere geloofsgroepe hierdie dimensie van ons lewe gebruik om mense te beheer. Kerke en geloofsgroepe is op ‘n spektrum. Aan die een kant is daar die grootste groep hoofstroom kerke waar vrye assosiasie die beginsel is. ‘n Besluit om deel te raak van so ‘n kerk is ‘n persoonlike besluit wat sonder dwang of emosionele druk moet plaasvind. Aan die ander kant van die spektrum is daar die volwaardige kultusse waar lede beheer word deur skuldgevoelens, emosionele manipulasie en sosiale druk.
Daar is ongelukkig tans groepe in London wat kenmerke vertoon van kultusse. Ons moet onderskei tussen die okulte en ‘n kultus. Okulte groepe, is groepe wat hulle besig hou met esoterese, paranormale praktyke soos bv. Satanisme. Hierdie groepe herken ons gewoonlik maklik aan hulle praktyke en rituele. Die meer gevaarlike groep is die kultusse omdat hulle in die meeste gevalle “goed, toegewyd, geestelik en christelik” lyk en as kerke bekend staan.
Hierdie groepe word deur die volgende gekenmerk.



1. Sterk outokratiese leier.
2. Eksklusiewe toegang tot die waarheid. (“Net ons verstaan die Bybel reg en al die ander is verkeerd”)
3. Sekere geloofpraktyke (Bv. doop, speek in tale, ens.) word verhef tot absolute voorwaardes vir geloof. Randsake in die Bybel word verskuif na kernsake. (Luister gerus na week 2 van Ware Noord preekreeks op die web)
4. Beheer is belangrik en alledaagse besluite wat lede neem word sterk bepaal deur die leierskap.
5. Isolasie – lede mag net kuier, trou en verhoudings hê met ander lede van die kulte. Indien ‘n vrou bv. trou met ‘n man uit ‘n ander kerk, word sy uitgeskuif uit die kulte.
6. Die groepe definieer hulle gewoonlik in terme van die ander kerke waarteen hulle is.
7. Baie druk word op lede geplaas om ‘n groot deel van hulle finansies aan die groep te gee.
8. Kritiek van die leierskap word glad nie geduld nie.
9. Alle sosiale bande word met ‘n persoon gebreek wat uit die groep beweeg.




Die kern van ons geloof wat wyd erken word, sy wortels van die vroegste tye het en deur die reformasie nuut bevestig is, kan opgesom word in die volgende frases:
Here Jesus Christus alleen. (Jesus betaal vir ons sondes deur Sy kruisdood.)
Geloof alleen. (Ons word deel van hierdie redding deur geloof alleen.)
Genade alleen. (Ons ontvang hierdie redding as ‘n geskenk van God.)
Bybel alleen. (God openbaar hom alleen deur sy Woord.)
In die Bybel lees ons van Jesus wat mense nader getrek het, wat ingetree het vir die vrou wat betrap is dat sy owerspel gepleeg het. Jesus manipuleer en dwing nooit, Hy is oop vir ander, luister en verwerp mense nie. Ons lees van genade, vrye genade wat ons ontvang, nie vir dit wat ons doen, die gawes wat ons het, of die geld wat ons gee nie.
Toets die geeste aan die Bybel, bid dat die Gees vir jou onderskeid sal gee, en as iets jou ongemaklik maak is daar gewoonlik ‘n rede. As julle al ervarings van sulke groepe gehad het hoor ek graag daarvan.