1 Korintiërs 5:6-8
6 Julle selfverheffing is nie mooi nie. Weet julle nie dat 'n bietjie suurdeeg die hele deeg deurtrek nie? 7 Verwyder dan die ou suurdeeg, sodat julle nuwe, ongesuurde deeg kan wees, en dit is julle ook werklik. Ons paaslam is immers geslag: dit is Christus. 8 Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van onsedelikheid en ander sonde nie, maar met die ongesuurde brood van reinheid en waarheid.
God is besig met Sy groot plan met Israel. Hulle staan gereed om uit Egipte te vlug. Tydens die Pasga word 'n lam geslag en die bloed aan die deurkosyne gesmeer. God straf die Egiptenare vir hulle ongehoorsaamheid en spaar Sy volk. Die volgende dag begin hulle trek, hulle is vry. Hierdie is die eerste dag van 'n nuwe fase in die geskiedenis van die volk. A.g.v. die haas waarmee hulle weg is uit Egipte was daar nie tyd vir suurdeeg in die brode nie, dus eet hulle tydens die Pasga en die week daarna steeds die ongesuurde brode.
God stel 'n fees in waartydens hierdie geleentheid herdenk word. Die fees begin die dag na die Pasga en duur vir sewe dae. Die fees se naam verwys terug na hierdie ongesuurde brode. Die afwesigheid van suurdeeg kry later 'n groter simboliese waarde wanneer suurdeeg 'n sterk negatiewe waarde kry in die lewe van die volk. Hulle suurdeeg was nie te kry in 'n netjiese pakkie by Tesco nie, maar deel van gister se ou deeg is gebruik in vandag se brood. Die ongesuurde brode was 'n teken van 'n nuwe skoon begin. Hierdie was nie net 'n tyd vir geestelike skoonmaak nie, maar ook fisiese skoonmaak. Al die ou gis is uit die kombuis gegooi en die huis is skoongemaak. Die huise het klein venstertjies en deure gehad wat nie baie lig en lug ingelaat het nie. As die oortollige goed uitgegooi is, was daar weer spasie in die huis en het die lig en lug makliker ingekom. 'n Nuwe oop begin met baie lig in hulle huise en lewens. Sommige skrywers koppel die gebruik van “springclean” aan hierdie gebeure.
Dit is treffend dat as die Here Jesus 'n dag kies waarop hy opstaan, dan is dit juis die begin van die fees van die ongesuurde brode. Die Jode is besig om terug te dink aan hulle eerste dae van vryheid uit slawerny – Jesus bring vryheid van die sonde en dood. Jesus kom maak ons vry van die suurdeeg wat die res van ons lewe versuur.
Tydens hierdie tyd kan ons as gesin vir 'n week ongesuurde brode (wat by die meeste supermarkte te kry is) eet. As ons dit eet kan ons gesels oor die betekenis daarvan vir ons. Dit is ook 'n ideale geleentheid om na ons lewens en omgewing te kyk. Ons huise en lessenaars bietjie skoonmaak en uitgooi. Nie alleen ons fisiese omgewing nie, maar ook ons harte. Wat is daar van gister wat ons nog saam met ons dra? Hardnekkige sondes wat gewoontes geword het, skuldgevoelens, woede en haat. Al hierdie goed is die suurdeeg van die verlede wat ons lewe nou omkrap. Leef nuut, leef vry!
No comments:
Post a Comment