Ek het ‘n vraag gekry van een van die selgroepe oor die gee van tiendes en dankoffers. Hulle het ‘n Bybelstudie van Bennie Mosterd behandel oor tiendes en dit het ‘n klompie vrae losgemaak by hulle. Hier is ‘n paar gedagtes van my kant wat ek aan hulle gegee het.
Daar is ‘n paar beginsels wat vir my uitstaan:
1. Ons moet verstaan wat genade is (Johannes 1:16 Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang.)As ons verstaan wat ons alles ontvang het genade is, is ‘n lewe van dankbaarheid nie moeilik nie. Alles wat ons het is ‘n geskenk uit God se hand. Ek besef baie dat as ek dalk ‘n paar kilometer na enige kant toe gebore is, of as ek dalk swart was of nie die intellektuele vermoëns gehad het om te studeer nie (so kan ek aangaan) , sou my lewe baie anders gewees het. Nou het ek alles ontvang, ek het - ‘n goeie werk, ek het oorvloed, ek kan vir my gesin sorg en ook die voorreg hê om ‘n seën vir ander te wees. Dit is ook so dat ‘n mens die geleenthede moet gebruik wat jy kry. Dit vra jare se harde werk, maar die meerderheid mense in die wêreld kry nooit die geleentheid nie. As God vir ons ‘n tiende vra dan sê Hy eintlik: “My liefde vir jou is so groot, Ek gee vir jou in oorvloed en jy kan 90% vir jouself hou.”
2. Ons ontvang dit wat ons het (geloof, finansies, kennis, intelligensie) om ‘n seën vir die wêreld te wees. Ons maak ‘n groot fout as ons dink dat God ‘n gelowige seën net tot sy eie voordeel. As die Here my iets leer moet ek ander seën deur dit vir hulle te leer. As God my seën met finansies moet ek dit gebruik waar dit tot ‘n seën kan wees. (Genesis 18:18 Abraham sal tog 'n groot en sterk nasie word en in hom sal al die nasies van die aarde geseën word.) Dit is deel van die sin en betekenis wat ons op aarde ervaar. As ons hierdie element verwyder uit ons voorspoed dan raak die lewe leeg en sonder sin. Dit lei daartoe dat ons dan sin probeer soek in plesier, dwelm ens.
3. Die beginsel dat ons ‘n tiende moet gee aan die werk van die Here, kom op talle plekke in die Bybel voor. (Genesis 28:22; Levitikus27:30 30 "Een tiende van al die produkte van die land behoort aan die Here, of dit nou graan of vrugte is. Dit is aan die Here gewy.” ;Maleagi 3:10 “Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe sodat daar iets te ete in my huis kan wees, en toets My hierin, sê die Here die Almagtige. Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie. ”) Alhoewel die beginsel nie so baie in die Nuwe Testament voorkom nie, hef Jesus nêrens die beginsel op nie. Hy sê wel ons moet pasop vir ‘n wettiese verstaan van ‘n tiende. God verwag nie ‘n tiende van ‘n ongelowige nie. Dit is alleen ‘n reaksie van die wat die genade van ons Here Jesus verstaan. (Matteus 23:23 "Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle gee tiendes van kruisement, anys en koljander, maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg, laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. Juis hierdie dinge moet 'n mens doen en die ander nie nalaat nie.) Die fariseër het die beginsel van ‘n tiende belaglik gemaak deur een koljanderkorrel en twee anyssade tempel toe te bring en verby die honger bedelaar te loop.
4. Ons moet nie verwag om meer te ontvang omdat ons baie gee nie. Tog is dit ook so dat God ons vertrou met wat ons het. As ons getrou is daarmee vertrou Hy ons met meer. Hy gee sy middele vir die wat sy Koninkryk die beste dien.
5. Die gesindheid waarmee ons gee is ook belangrik. Is dit onder dwang of uit dankbaarheid? (2 Korintiërs 9 "Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.")
Hierdie is so paar gedagtes soos ek persoonlik dit verstaan. Ek besef ook dat ek nie die volle waarheid het nie en dus soek ons maar saam. Ek sal graag julle gedagtes oor die beginsel van Tiendes wil hoor.
Seën
Christo
Die Here vra ons hele lewe en nie net afgemete gedeeltes nie. Ek sou, nadat ek my tiende by die kerk gegee het, ook nog kon raaksien dat daar iemand in die nood is en dan direk daar ook kan help. Wanneer gelowiges begin om dele van hulle dankoffer terug te hou sodat hulle boemelaars en bedelaars daaruit kan help flikker daar 'n rooilig. Net so as iemand vra of dit nou 'n tiende is van my bruto of netto inkomste. Die Here vra alles en Hy gee alles.
ReplyDeleteOns raak maklik in uiterlike goed vasgevang. 'n Tannie, wat baie erg gevoel het oor die slegte toestand van die kerk se geldsake het met entoesisme aangemoedig dat ons darem nou meer moet gee as net die "outydse" tiende. Tye verander en met deesdae se groot salarisse kan ons dit darem seker nou bekostig om liewer 'n twintigste te begin gee!! Ons kan vir haar lag, maar sommige gee dit nie eens nie.
Ek dink, die tiendes is uit ons inkomste en ons offerhandes, is wanneer ons, ons liggaam diensbaar stel vir werke, tot eer van God. 2 Konings 12 moet nooit uit die oog verloor word, wanneer dit by tiendes kom. Die ryk man het in sy oorvloed gegee en tog het die weduwee gegee wat sy kon. Wat in die Bybel staan is blywend en sal nooit outyds wees nie omdat dit vir alle eeue geskryf is.
ReplyDelete